Voor Max du Preez as joernalis bekend – en omstrede – geword het, was hy ’n kaalvoet Boerseun van die Vrystaat, die kleinseun van Boereoorlog-krygers en lid van die Kinderkrans. As verslaggewer by Beeld leer ken hy die binnekamers van Afrikanermag en meng met groot kokkedore soos John Vorster en Adriaan Vlok. Hy doen ook verslag uit Soweto. Op ’n dag begin klippe spat. Skielik hoor hy skote. Die datum is 16 Junie 1976.
Du Preez ondersoek in dié rou relaas die laaste 50 jaar. Hoe kon kerkmense, sy eie pa inkluis, apartheid steun? Hoe het politieke verandering gebeur, en wat gaan vandag aan met AfriSol? Die boek is heerlik leesbaar, onthutsend, krities – ook teenoor homself – en vol staaltjies; van PW se mauser, Lang Hendrik se uitbarsting, en ontbyt met Kaunda tot die (swak) sing van “Sarie Marais” vir Sankara. Dan was daar ook die keer toe ’n informant Max met ’n RPG gedwing het om peermampoer af te sluk . . .
Du Preez se liefde vir die grond, sy mense en sy land straal uit elke sin.

Reviews
There are no reviews yet.