Marita van der Vyver
Marita van der Vyver is gebore in Kaapstad en het 'n meestersgraad in joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch. Tussen die ouderdom van 20 en 30 publiseer sy drie jeugromans voordat haar eerste volwasse roman, Griet skryf 'n sprokie, in 1992 'n blitsverkoper en 'n literêre sensasie word. Die boek is bekroon met drie van die mees gesogte literêre pryse in Suid-Afrika: die M-Net, die ATKV en die Eugène Marais. Sedertdien het sy 'n heeltydse en veelsydige skrywer vir alle ouderdomme geword, met 'n tiental romans, 'n bundel kortverhale, twee versamelings van humoristiese essays, prenteboeke vir kleuters, talle kortverhale en essays in versamelbundels, en gereelde rubrieke in koerante en tydskrifte. Sy het reeds verskeie pryse vir haar skryfwerk gewen, asook 'n internasionale studiebeurs van die SA Stigting vir Skeppende Kunste, en in 1997 is sy genooi om deel te neem aan die bekende International Writers Program van die Universiteit van Iowa in die VSA. Haar volwasse romans word deurgaans in Engels, Nederlands en Duits vertaal, terwyl Griet skryf 'n sprokie in sowat 'n dosyn tale gepubliseer is. Dit was die eerste Afrikaanse roman ooit wat in Chinees vertaal is, en het meer onlangs ook in Yslands verskyn. Marita woon op 'n klein dorpie in die suide van Frankryk saam met haar Franse man, Alain Claisse. Hulle het 3 seuns en 'n dogter.