Christiaan Bakkes

Christiaan Mathys Bakkes is in 3 Augustus 1965 op Vredenburg aan die Weskus gebore.

Hy matrikuleer in 1983 aan die Pro Arte-kunsskool in Pretoria. Christiaan was ’n staptoerveldwagter in die Krugerwildtuin toe hy in Februarie 1994 sy linkerarm verloor het nadat twee krokodille hom aangeval het terwyl hy in ’n dam geswem het. Nadat hy herstel het, het hy vir vyf maande deur Afrika gereis, vir drie jaar vir die WWF in die Kaokoveld in Namibië gewerk, en daarna by ’n safari-maatskapphy wat ekotoere op die Skedelkus aanbied. Tans is hy gids en areabestuurder by Wilderness Safaris in Namibië. Hy woon in Damaraland in die noordweste van Namibië.

In 1998 het sy debuut, Die lang pad van Stoffel Mathysen, verskyn en daar het sedertdien reeds vier boeke oor sy alter ego, Stoffel, se avonture verskyn. Die meeste verhale is op werklike gebeure gebaseer.

Stoffel by die afdraaipad is in 2005 vir die M-Net-literêre prys vir tekste in kort formaat (kortverhale, kinder- en jeugboeke) benoem.

In 2008 het In Bushveld and Desert: A Game Ranger’s Life ’n keur en vertaling uit sy bundels verskyn.

Het jy geweet?

- Christiaan moes na hy sy linkerarm verloor het van voor af leer skryf (hy was linkshandig), en kon voor die aanval baie mooi teken. Intussen het hy ook begin om weer illustrasies te doen. Hy skryf al sy stories met die hand en kry dan iemand om dit vir hom oor te tik.
- Hy is die die seun van skrywer Margaret Bakkes en historikus Cas Bakkes. Skrywer C. Johan Bakkes is sy broer.

Boeke steeds in druk
(Uitgegee deur Human & Rousseau)

Krokodil aan my skouer (2014)
Bushveld, Desert, and Dogs: a Game Ranger’s Life (2012)
Stoffel op safari (2012)
Stoffel in Afrika (2010)
In Bushveld and Desert: A Game Ranger’s Life (2008)
Stoffel se veldnotas (2007)
Stoffel by die afdraaipad (2004)
Stoffel in die wildernis (2000)
Die lang pad van Stoffel Mathysen (1998)

Prosa

2014 Krokodil aan my skouer
2012 Bushveld, Desert, and Dogs: a Game Ranger's Life
2012 Stoffel op safari
2010 Stoffel in Afrika
2007 Stoffel se veldnotas
2004 Stoffel by die afdraaipad
2002 Skuilplek
2000 Stoffel in die wildernis
1998 Die lang pad van Stoffel Mathysen

Vertalings

2008 In Bushveld and Desert: A Game Ranger’s Life – Vertaal deur Elsa Silke

Uittreksels uit resensies

“Stoffel se veldnotas is onpretensieus. Dit probeer nie grootse literatuur wees nie. Dit is wel gemaklike leesstof wat die leser nader bring aan ’n ander wêreld en, met ’n stowwerige ompad, soms by menswees in Afrika.” – Dirk Jordaan, Beeld (2007)

“Afdraaipad is ’n baken vir Bakkes, veral die eerste drie genoemde verhale. Ek persoonlik wil sien dat hy meer fiksie probeer, ’n paar lugspieëlings inwerk tussen daai lekker ingesoute karakters van hom. Miskien kan hy so ’n fiktiewe aanval op 'n diamantmaatskappy doen en dalk die kanker so bestry. Dit is nietemin vrek lekker om Afrikaans te lees soos hy daar in die sand opstaan en lyf kry.” – Charles Smith, Volksblad (2004)

“Ja-nee, sluip uit jou stedelike skuilplek, gaan koop die boek, ruk jou das af, knak ’n bier en lees hom waar die vrou en kinders nie kan sien dat jy soms trane afvee nie.” – Charles Smith oor Skuilplek , Volksblad (2002)

“Christiaan Bakkes skryf ’n onopgesmukte prosa waardeur hy blyke gee van ’n sekere integriteit as skrywer. Hy slaag ook daarin om nuwe en voorheen verhulde werklikhede oop te skryf. Stoffel in die wildernis is lekker vakansieleesstof wat sal vermaak eerder as om te vermoei.” – Andries Visagie, Beeld (2000)

“Stoffel Mathysen word ’n simbool van die jong mens in die heersende oorgangskoppelvlak van hierdie veranderende subkontinent. Hy onthul sonder kommentaar net deur goeie vertelling, karakterisering en situasiebeskrywing selfaanvaarding en 'n bepaalde psigiese instelling teenoor die omgewing, en 'n spontane aanvaarding van alle mense van en inskakeling by die nuwe Afrika. Alles met ’n volgehoue tikkie humor en ironie. Hy oortuig as persoon so natuurlik en aanvaarbaar dat aan die geloofwaardigheid van die res geen oomblik getwyfel word nie.” – Willem M. Botha oor Die lang pad van Stoffel Mathysen , Die Burger (1998)

Author's books

Soetdoring in die ruigtes

Soetdoring in die ruigtes is meer as ’n historiese roman – dit is ’n meditasie oor trauma en genesing, oor die mensdom se vermoë tot beide vernietiging en verlossing. Bakkes herinner ons weer aan ons plek in die natuur en ons verantwoordelikheid om dit vir die toekomstige geslagte te bewaar.

Buy Online

Wordsworth Books
Loot

Takealot

Graffiti Books