Liewe Heksie se grootste avontuur nog!
Hierdie splinternuwe, voorheen ongepubliseerde verhaal deur die legendariese Verna Vels is ’n besonderse huldeblyk aan een van Afrikaans se mees geliefde kinderboekkarakters. Wanneer die nare Geelheks van Gifappeltjieland en ’n bende skelm, honger rotte ’n plan bedink om die kosbare Silwer Roos te steel, word Liewe Heksie en haar vriende meegesleur in ’n dolle jaagtog om Blommeland te red. Maar daar is ook ’n vlieënde piering wat moleste maak en ’n hondskoen wat die Gifappeltjies wil byt, en koning Rosekrans se spesiale verjaardagviering ontaard in chaos.
Vandag is Liewe Heksie steeds die bekendste kinderboekkarakter in Afrikaans en Verna se stories vermaak derduisende bewonderaars al vir meer as sestig jaar. Presies waarin Heksie se bekoring lê, is moeilik om te sê, maar miskien is dit omdat kinders (én grootmense) so maklik met haar kan vereenselwig. Wanneer sy ’n effens ongewone woord nie ken nie, wanneer sy iets belangriks vergeet, wanneer sy haar punthoed skaam oor haar oë trek, of teen wil en dank tog iets moeiliks regkry, deel die kind in ons in Heksie se vreugde of mislukking.
Met haar radioprogramme, boeke en televisie-werk het Verna Vels geslagte kinders betower en ’n onuitwisbare wêreld van verbeelding nagelaat. Voor haar dood in 2014 het Verna saam met die talentvolle animasiekunstenaar Allan Cameron en die span by Luma Animation Studios gewerk om ’n draaiboek vir ’n oorspronklike Liewe Heksie-film te voltooi. Hierdie boek is die resultaat van die passie en kreatiwiteit wat steeds in dié projek gestort word – ’n meesterstuk wat al die geliefde karakters en stories uit Verna se wonderwêreld saamweef in ’n magiese nuwe avontuur.

Reviews
There are no reviews yet.