Deon Meyer
Deon Godfrey Meyer is op 4 Julie 1958 in die Paarl gebore. Hy matrikuleer in 1976 aan die Hoërskool Schoonspruit in Klerksdorp. Hy studeer aan die PU vir CHO en volg ’n BA-kursus met Engels en Geskiedenis as hoofvakke. Hy behaal later ’n honneursgraad aan die Universiteit van die Vrystaat.
In die 1980’s het hy as joernalis by Die Volksblad gewerk, die Universiteit van die Vrystaat se Skakelburo en in 1989 begin hy by Sanlam in Kaapstad as reklame-kopieskrywer.
In 1991 word hy aangestel as bestuurder van Interne Kommunikasie en skeppende direkteur van Sanlam se Reklame-afdeling. Hy begin later sy eie maatskappy wat spesialiseer in die skep en bestuur van virtuele gemeenskappe op die internet, en daarna was hy die bestuurder van spesiale projekte van BMW se motorfietsafdeling. Hy is op die oomblik ’n voltydse skrywer.
Deon Meyer se romans het al in meer as 25 tale verskyn. In Frankryk het hy twee groot pryse ingepalm vir die Franse uitgawes van sy spanningsromans. Vir Feniks Le Grand Prix de Littérature Policiére 2003, vir Orion die Prix Mystère de la Critique 2004. Proteus verskyn op die langlys vir die IMPAC literêre toekenning en die Duitse vertaling het in 2006 die Deutsche Krimi Preis in die internasionale kategorie ontvang.
Het jy geweet?
· In 2004 is die Engelse vertaling van Proteus, The Heart of the Hunter, deur die Chicago Tribune aangewys as een van die tien beste spanningsromans in Amerika.
· Hy behaal in 2004 ’n meestersgraad in kreatiewe skryfwerk onder Marlene van Niekerk aan die Universiteit van Stellenbosch.
· Deon was die eerste Suid-Afrikaner om die Deutsche Krimi Preis te ontvang – dit word beskou as een van die oudste en gesogste Duitse literêre toekennings vir Kriminalliteratur, oftewel misdaadfiksie.
· Die Sweedse uitgawe van Orion (Död i gryningen) was in 2008 op die kortlys van die Martin Beck-toekenning vir vertaalde misdaadfiksie. Orion was ook in 2000 op die kortlys van die M-Net-prys.
· Orion is tot ’n TV-reeks verwerk en Deon het met die draaiboek gehelp. Hy het ook die draaiboek van die TV-reeks, Transito, geskryf wat in 2008 uitgesaai is.